2021-12-24 - Oukersaand - Bischof Horst Müller

Predigt Miga 5 ) [ Deutsche Predigt ] [ Afkondigings515.51 KB ]


 
 

1. Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!

2. Hy sal sy mense 'n kort rukkie prysgee, so lank as dit 'n vrou neem om 'n kind in die wêreld te bring. Dan sal die uit sy familie wat die ramp oorleef het, terugkom na die Israeliete toe.

3. Hy sal na vore kom en sy volk lei deur die krag wat die Here hom gee, deur die sterkte van die Naam van die Here sy God. Hulle sal woon tot in die uithoeke van die aarde, want hulle leier sal sterk wees.

4. Hy sal vrede bring.


Een van my gunsteling stories as kind was die “Heinzelmännchen von Köln” - ´n lekkerlees gedig. In Afrikaans is dit as verhaal beskikbaar, maar nie as gedig nie, “Die flukse kabouters van Keulen” Die eerste vers vertel van hierdie wonderlike skepsels, wat snags besig was. Mense wat te lui was om nog die nodige takies in die huis te verrig, kon lekker gaan slaap en snork. Siedaar, die kabouters het aan die werk gespring, gewas, gestryk, geskrop, gevee - en wanneer die luiaard uiteindelik wakker word, was die huis blink skoon. Die storie vertel dan aanhand van voorbeelde hoe hulle die bakker, die skoenmaker, skrynwerker, kleremaker almal gehelp is sonder omsef ´n vinger te verroer.

Ongelukkig was die kleremaker se vrou te nuuskierig en het ertjies uitgestrooi om die kabouters te laat struikel, sodat sy hulle kon sien. Die plan het gewerk- met groot gepletter en geraas het die arme kabouters op die ertjies gegly, geval. Toe die vrou met ´n lamp in die vertrek inkom het hulle, woerts, woerts, verdwyn en is nooit weer gesien nie.

Van toe af moes almal maar self was, stryk, skrop en vee - die lieflike tyd van bederf was verby! Een van my begeertes as kind was om self die kabouters te kan sienmaar vergeefs - dit was maar net ´n storie.

Baie mense beskou die Kersverhaal ook as maar net ´n sprokie, ´n storie vir kinders. Natuurlik is dit lekker om oor kersfees die mooi verhaal te hoor, en ´n bietjie daarvan te droom hoe wonderlik dit sou wees as daar vrede op aarde sou kom. Maar as ons eerlik is, moet ons toegee dat sedertMiga 2700 jaar gelede hierdie woorde verkondig het, daar nog niewerklik vrede op aardewas nie. En ook nadat Jesus gekom het, was daar nie omvattende vrede nie, al het die Engele belowe: Vrede op aarde.

Moet ons dan maar die kersverhale geniet, veral as ons klein kinders sien wat grootoog daarna luister, wetende dat ná kersfees ons maar weer moet aangaanmet al ons take, en die probleme wat voor kersfees daar was, na kersfees nog steeds op ons wag. Soos die mense in Keulen, wat maar weer alles moes self doen, omdat die goeie tye vir altyd verby was.

Ten minste is ons in dié opsig ´n bietjie meer gelukkig, want kersfees kom elke jaar weer, dan kan ons tenmiste vir ´n paar dae hierdie sprokieswêreld geniet.

Die verhaal van Jesus is egter nie ´n sprokie nie - al klink sommige aspekte daarvan soos ´n sprokie - Engele en ´n fantastiese ster, wyse manne met groot geskenke, herders met skape wat voor ´n baba kniel. Agter al hierdie is daar nie ´n storieverteller nie, maar ´nHerewat al vir duisende jare probeer om die mense te wen. Eintlik al sedert die mens bestaan het God probeer om in ´n goeie verhouding met die mens te kom. Die hele Ou Testament - vanaf die eerste tot die laaste hoofstuk, getuig daarvan.

Doen jouself die guns en lees die hele boek Miga waaruit vandag se lesing kom- dis net ´n paar bladsye lank, dit sal vinnig gaan. Jy sal verbaaswees omte sien hoe die situasie van 2700 jare geledemaar baie soos ons huidige situasie in Suidafrika lyk: Regeerderswat sleg regeer, korrup is en hulle self verryk. Armes wat al hoe armer word, en niemand gee om nie. Rykes wat hulle rykdom opgaar, hulle self verskans en nie omgee vir die nood van ander nie.

Dis in hierdie Situasie waar Miga dan God se belofte van ´n nuwe begin verkondig. Hy praat van ´n koning wat heeltemal anders sal regeer. Soos David, kom hy uit Betlehem, nie uit Jerusalem se koningshuis nie. Al regeer daar die nasate van David, is hulle slegte regeerders. God wil hulle nie hervormnie - hy begin van voor af, weer in die klein dorpie Betlehem.

Christene beskou hierdie teks as aankondiging van die Geboorte van Jesus inBetlehm. Christus is hierdie nuweKoning, gebore inBetlehem, deur wie daar uiteindelik iets nuuts en goeds begin.

Die Geskiedenis wys egter, dat Christene al te dikwels net so teenoor Christus en sy koms opgetree het as die Keulenaars teenoor die flukse kabouters: Te lui om te werk, het hulle staat gemaak op die kabouters om alles blink skoon te hou. Net so verwag Christene van ons vredevors Christus dat hy versoening en vrede bring, sonder dat ons self hand wil bysit.

En omdat daar dan (terwyl ons luilekker lê en slaap) nie vrede komnie, dink mense die storie van Jesus is ook maar net ´n verhaal vir kinders. Dit is nie! Jesus wil regtig alles nuut maak. Hy wil vrede bring - maar nie terwyl ons slaap nie - hy wil dit sáám met ons, deur ons bewerkstellig! Hy wil ons betrek in die uitbreiding van sy koninkryk!

Miga sê dit begin in Betlehem, nie in Jerusalem nie. Jesus begin sy werk klein - by ons, in ons.

Elkeen van ons, op ons eie, kan hierdie land nie red nie, kan nie vrede en geregtigheid in Suid Afrika bewerkstellig nie, nog minder wêreldwyd. Elkeen van ons op ons eie is soos die onbeduidende Betlehem. Maar as ons toelaat dat die Here by ons begin, sal sy werk, sy vrede, sy seën, van ons af versprei!

Die flukse kabouters sal nooit kom nie, want hulle bestaan nie, en het nooit bestaan nie. Christus wil egter na ons toe kom - nie terwyl ons slaap nie, maar in ons wakkerwees!Hywil ons deelmaak van sy span. Dit is so dat in die afgelope 2000 jaar sedert sy geboorte daar nog nooit werklik vrede op aarde was nie. Terselfdertyd is daar oneindig baie voorbeelde waar daar vrede en ´n nuwe begin gekom het waar Christene sáám met Jesus gewerk het.

Die Kersverhaal is nie ´n sprokie vir kinders nie. Dit is ´n verhaal van hoop van ´n Here wat, ten spyte van alles, weer wil begin, wat die mensdom nie weggooi oor hulle sleg is nie, maar wat mense soek wat oop is om Hom te ontvang, menslike Betlehems, wat bereid is om vir homplek te maak en dan saammet homte lewe - nie net Kersfees nie, maar dwars deur die jaar.

Daar waar mense bereid is om Koning Jesus te volg, word die woord waar: “Hulle salwoon tot in die uithoeke van die aarde,want hulle leier sal sterk wees.”

Mag jy hierdie Kersfees geseënd wees, daar in jou Betlehem. Die flukse kabouters is weg - vir altyd. Jesus is hier - vir altyd!

Amen


Horst Müller, Biskop NELCSA, Diese E-Mail-Adresse ist vor Spambots geschützt! Zur Anzeige muss JavaScript eingeschaltet sein!


 

covid 19

Logo and link provide as required by Government Notice No. 417 of the
South African Department of Telecommunications and Postal Services